TOAST COETZER
» Features
» Fiction
» Reviews



- Join Here
- Terms & Conditions
- What is Writers Club?


FICTION
Meneer Van Heerden Mis Sy Squash Game

deur Toast Coetzer

Voëltjies tjirp-tjirp in die takke, mal en ongehoorsaam soos 'n country band met banjos en kak teen die halfuur voor dagbreek. Honde draf vir oulaas in die buurt rond, kort voor hulle hul poste as waghonde hervat, naai hulle nog vir oulaas die bitch op die hoek. Ja, selfs daai Labrador met die goeie geaardheid. Dis veral hy wat die pimp is. Die ander honde noem hom Barry White. 'n Troppie tarentale hop een-een en ligswart uit die bome langs die parkie, pik-pik hulle tone skoon en begin solank opstap fabriek toe, toebroodjies en flessies onder die arms. Die begin van nog 'n lang dag.

  1. Hy word eers so omtrent 7-uur wakker. Hy's laat vir werk. Hy borsel nie sy tande nie en jaag werk toe.
  2. Hy's 'n wenner. Hy verdien groot bucks.
  3. Hy cheat op sy vrou.
  4. Sy't implants.

"Goeiemôre, goeiemôre! Hoe lyk dinge? Wanneer is my eerste afspraak? Koffie asseblief. Shit, ek's moerse jags vanoggend. Lindie, kom hier!"

Lindie volg hom die kantoor in en sit die deur op knip.

"Goeiemôre meneer Van Heerden. Wat sal dit vanoggend wees?"

Sy's so 23 en wanneer sy haar bloes oopknoop is haar magie plat en ferm, haar borste klein en regop. Hy mors nie tyd nie en steek sy gesig in haar nek, dan af, ru en haastig soos 'n bees wat 'n blok Rumevite lek. Hy leun agteroor op die lessenaar, sy trek sy zip af.

"08:45. Dis Mnr Faku van die stadsraad. Met die planne vir die woonstelle," kry sy in tussen happe.
"Goed. Maak seker daai blueprints is op my tafel teen daai tyd," sê hy terwyl hy die telefoon van die mik haal.

Na die tyd staan hy sy hande en was by die wasbak en merk hoe iemand buite in die parkeerterrein besig is om in te breek by sy BMW. Hy storm daar uit, gryp sy pistool in die verbygaan uit die laai, hardloop na die hyser toe.

"Fok jou, jou fokken…", begin hy al toe hy onder by die deur uit is, en toe klap die eerste skoot al. Die motordief begin hardloop, maar hy struikel oor die rant van die pad en net toe hy op is, slaan 'n skoot hom in die been. Hy val soos 'n gebou, so in fases, maar dan hard. Meneer Van Heerden se voet is reeds op sy kop, hard in die sement in, sweet wat nou uit sy voorkop spuit soos as mens 'n lemoenskil buig.

"Fok jou, jou fokken…", kry Meneer Van Heerden weer uit, maar dan is die gebou se sekuriteitswag ook daar.
"Ons sal dit verder vat van hier af Meneer, baie dankie."
Van Heerden gee die dief nog so harde skop teen sy kop wanneer hy wegloop en mompel iets simpels.

Terug in die kantoor vee hy sy skoen af en kyk na die bloudruk van die woonstelgebou. Sonder om te kyk, reik sy hand na waar die koffie behoort te staan.

  1. Vanogged is daar nie koffie nie
  2. Vanoggend is daar 'n klein kaktus.
  3. Dit steek hom.
"Lindie!" Sy vinger slaan die interkom knoppie te hard en dit vererger net die situasie. "Lindie! Wat gaan hier aan?"
Lindie staan by die deur en probeer twee en twee bymekaar sit. Sy frons so half-sexy half-onseker en sê dan: "Meneer Van Heerden, ek't geen benul nie. Ek sal onmiddellik met die skoonmakers praat."

Met die pleister wat Lindie gaan haal het aan sy vinger, skud Meneer Van Heerden Meneer Faku se hand om 08:52.

  1. Meneer Faku is laat.
  2. Meneer Van Heerden vergewe hom. Dis goeie besigheid.
  3. Die vergadering verloop suksesvol. 'n Uur en 'n half later is albei tevrede. Hulle skud hand.

"Lindie! Kom, dis vroeg middagete vandag. Waar wil jy gaan eet? Ek's lus vir seekos! Kom!"

  1. Lindie haat seekos.
  2. Sy gaan in elk geval saam.
  3. Sy bestel garnale.
  4. Na sy geeët het, verskoon sy haarself en gaan druk haar vinger in haar keel af.
  5. Bulimie is nie grappies nie.
  6. Van vrouens word verwag om fiets en fiks te wees.

Terug by die kantoor verloop die middag sonder voorval. Die polisie kom maak 'n draai om 'n verklaring af te neem. Hulle wens Meneer Van Heerden geluk met sy misdaadbekamping. Hulle noem hom 'n goeie burger. Meneer Van Heerden glimlag breed. Lindie neem 'n foto van hom saam met die sersant.

Teen omtrent 4-uur kom iemand om die photocopier reg te maak. Meneer van Heerden sien nog twee kliënte en potensiële sake-vennote. Hy's baie tevrede. Dis vyfuur.

"Totsiens Lindie, sien jou môre."
"Totsiens Meneer Van Heerden, geniet u aand."

  1. Hy ry huis toe.
  2. Vinnig, want hy't squash saam met die bankbestuurder teen 7-uur.
  3. Sy vrou staan agter die deur.
  4. Sy't 'n byl in haar hand.

Die tarentale roep hulle mondfluitjies teen die sonsondergang in. Barry White pis sy merk teen Meneer Van Heerden se kar. Spreeus vlieg uit die takke van 'n olienhoutboom. Genoeg pers kak op kar bonnets vir een dag. Die dag is oor.