DANIEL BOTHA




- Join Here
- Terms & Conditions
- What is Writers Club?


FEATURES
Die Barber

Verlede week besluit die masjien wat veronderstel is om my lewe te vergemaklik en my toegang te gee tot die ‘wille wye wêreld’ hy is nou moeg gewerk, en sonder enige waarskuwings gaan rus hy sommer en weier om wakker te word of vir my te sê watse inligting ek laastens aan hom ontbloot het. Dit is toe die dat ek in die automobiel spring en jaag na die naaste kliniek vir sielsieke rekenaars.

Na enkele oomblikke word die probleem opgespoor en vasgetrap deur ‘n baie gawe en hulpvaardige blikbrein chirurg. ‘n Paar dollar ligter in my sak is ek weer in die padkewer onderweg huis toe.

Opgewonde om die herstelde pasient die langafstand in millisekondes te sien hardloop merk ek egter ‘n ‘barbershop’ of ‘knipwinkel’ op langs die pad en besluit my kuif wapper te welig in my oë die afgelope ruk (en ek mag dalk probleme ondervind om my herstelde pasiënt se werkverrigting ten volle te beleef). Ek gee ‘n pluk aan die stuur en laat die motor aan die kant van die pad tot stilstand kom. Ek tree uit die stowwerige swart perd en ‘n klein stof wolkie ontplof onder my sole. En soos a ‘n wafferse koeiseun stap ek toe oor na die knipwinkel, op met die twee trappe en stoot die deur oop laat die klokkies klingel soos ‘n Kersfees klokkespel op die maat van ‘the good the bad and the ugly’ of ‘Bliksem, ET en Janie’.

Met my hande in my sye staan ek en probeer braaf lyk maar ‘Paul the barber’ of Paulus die knipper lyk geensins beindruk nie. Hy gee sy groot stoel ‘n 130° draai en beduie met ‘n trek van sy kop dat ek myself daar moet gaan neerplaas. Sonder trustribbeling maak ek maar soos hy beduie. Ek klim op die stoel en onthou laas toe ek by een van die ouens was kon my voete nie eens die trappie bykom nie, en bowendien moes ek as klein seuntjie op ‘n plank sit wat bo-oor die armlenings gerus het. So verhewe het ek dan op die armlenings gesit terwyl die oom my hare knip en skeer in mooi skool-seun styl. Dan as hy klaar is suig hy my kop met ‘n stofsuier skoon om van al die los hare ontslae te raak - baie effektief en nogal lekker maar ook nogal verontwaardigend.

Ek merk die stofsuier uit die hoek van my oog langs Paulus die knipper se werksblad staan. Genade, dink ek by myself, as die man met ‘n stofsuier oor my kop gaan kan hy maar net sowel vergeet van die hele sny aksie, want sien, die enkele vergroeisels wat nog aan my kopvel vasklou klou nou nie juis so wonderlik vas nie, en ek is seker hulle sal graag van so verskoning gebruik maak om sommer heeltemal die stryd op te gee en arms omhoog in die pyp van die stofsuier af te vaar. Maar ek laat dit maar daar en plaas my vertroue in die oomblik, en in die feit dat die barbier nog in besigheid is, so hy was seker nog nie te veel gedagvaar nie.

Hy gee die blou voorskoot so skud in die lug dat dit klap soos ‘n .22 en ek sit sommer regop in afwagting. Hy knoop die borslap om my nek en besproei my met ‘n bottel water laat ek lyk soos ‘n veerpoot hoender na ‘n wolkbreuk. En toe begin die man te knip. Dit klink soos ‘n swaartgeveg tussen die muskutiers en die kardinaal se wagte hier om my kop, ek probeer my ore soos ‘n verslae hondjie te laat sak, maar ontbreek egter aan dié K9 vermoë. Ek probeer myself in die spieël voorstel sonder ore, maar dit was nie ‘n gerustellende prentjie nie. In spanning hou ek Paulus en sy snipperende skêr in die spieel dop terwyl hy my uitvra oor my on-Amerikaanse aksent, ek sê hom ek is van die land van melk en geen heuning en ons gesels oor koeitjies en kalfies maar ek bly waak teen die snipperende skêr.

Paulus staan so tree terug en gee sy kam vir my, ‘Comb through it and see if it feels good’ sê hy vir my. Ek speel saam en gee so een kam deur en sê hy moet maar nog bietjie sny, ‘n haarsny in dollars is maar duur so dit moet my so twee maande hou. Ek glo nie hy was lus vir nog sny nie, maar toe werk daai skêr van hom eers, hy knip so wild en ek sien net hare spat, dit lyk soos ‘n ‘weed-eater’ in die Amasone. Toe bedaar hy effens en kam my hare so agteroor en knip-knip so bo-oor alle weerbarstige hare wat bo uitstaan, en daarvan het ek baie, so gevolglik het hy heelwat geknip voor hy besef het die plan van hom werk nie so lekker nie, my hare word net al hoe minder en staan al hoe woester. Toe vra hy my wat dink ek nou, toe sê ek hom ‘Dit lyk te pragtig, kan ek nou maar gaan?’ Hy sê dit is goed so, ek moet net onthou om ‘gel’ in my hare te dra want daar is nie meer baie oor nie. Goed so reken ek, ‘n bottel sal my seker ‘n jaar hou. Toe pluk hy die stofsuier uit en begin my skoon te suig laat my kop op ‘n punt trek.

Ek gee hom sy $13 en spring in die automobiel en jaag huis toe met my kop by die venster uit solat ek die wind deur die hare gevoel kan kry terwyl ek nog hare oor het. Vir etlike jare sny ek nog net by een betroubare haarkapster, behalwe vir die enkele onvermydelike kere wat sy of te vêr of onbeskikbaar was. Sy ken my en my hare goed en knip hare met ‘n sekere presiesie, meet al die pad en kyk dat alles gelyk is, dit is hoe ek gewoond is aan ‘n haarsny, die ‘bushwacking’ effek werk nie so lekker vir my nie. Maar Paulus die barbier het menigte kliënte wat graag gaan plasing neem op sy groot rooi en wit stoel en gesels oor die gebeure by die huis en die klein kinders, ek twyfel egter of ek weer sal gaan sit op Paulus se stoel vir ‘n knip sessie, dalk oor so paar jaar wanneer die enigste sny wat nodig het die ‘zzzzzzzzzzz’ van ‘n knipper oor my kaal kop is. Tot dan toe, sterkte met die besigheid, oom Paulus.